Loading Bible Translation
First-time download in progress. This may take a few seconds…
Afrikaans Holy Bible Wordproject Bible
50 verses
1En hy het gesê: Ek het U hartlik lief, HERE, my sterkte.
2(18:3) Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.
3(18:4) Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos.
4(18:5) Bande van die dood het my omring, en strome van onheil het my oorval.
5(18:6) Bande van die doderyk was rondom my; strikke van die dood het my teëgekom.
6(18:7) Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom.
7(18:8) Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was.
8(18:9) Rook in sy neus het opgegaan, en ‘n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand.
9(18:10) En Hy het die hemel gebuig en neergedaal, en donkerheid was onder sy voete.
10(18:11) En Hy het op ‘n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het gesweef op die vleuels van die wind.
11(18:12) Duisternis het Hy sy skuilplek gemaak, sy hut rondom Hom: duisternis van waters, diktes van wolke.
12(18:13) Deur die glans voor Hom het sy wolke verbygetrek, hael en gloeiende kole.
13(18:14) En die HERE het in die hemel gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor; hael en gloeiende kole.
14(18:15) En Hy het sy pyle uitgestuur en hulle verstrooi; ja, sy bliksems in menigte, en Hy het hulle verwar.
15(18:16) En die beddings van die waters het sigbaar geword, en die fondamente van die wêreld is blootgelê vanweë u dreiging, o HERE, vanweë die geblaas van die wind van u neus.
16(18:17) Hy het uit die hoogte sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, Hy het my uit groot waters getrek.
17(18:18) Hy het my verlos van my magtige vyand en van my haters, omdat hulle te sterk was vir my.
18(18:19) Hulle het my oorval op die dag van my nood; maar die HERE was my steun.
19(18:20) En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het.
20(18:21) Die HERE het met my gehandel na my geregtigheid; Hy het my vergelde na die reinheid van my hande.
21(18:22) Want ek het die weë van die HERE gehou en nie goddeloos van my God afgewyk nie;
22(18:23) want al sy verordeninge was voor my, en sy insettinge het ek nie van my verwyder nie.
23(18:24) Maar ek was opreg by Hom, en ek was op my hoede vir my ongeregtigheid.
24(18:25) So het die HERE my dan vergelde na my geregtigheid, na die reinheid van my hande, voor sy oë.
25(18:26) By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg,
26(18:27) by die reine rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.
27(18:28) Want U verlos die verdrukte volk; maar U verneder die oë wat hoog is.
28(18:29) Want U laat my lamp skyn; die HERE my God laat my duisternis opklaar.
29(18:30) Want met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur.
30(18:31) Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is ‘n skild vir almal wat by Hom skuil.
31(18:32) Want wie is God buiten die HERE, en wie is ‘n rots behalwe onse God?
32(18:33) God is dit wat my met krag omgord en my weg volkome maak.
33(18:34) Hy maak my voete soos dié van herte en laat my staan op my hoogtes.
34(18:35) Hy leer my hande om oorlog te voer, sodat my arms ‘n koperboog span.
35(18:36) Ook het U my die skild van u uitredding gegee, en u regterhand het my ondersteun, en u neerbuigende goedheid het my groot gemaak.
36(18:37) U het my voetstap ruim gemaak onder my, en my enkels het nie gewankel nie.
37(18:38) Ek het my vyande agtervolg en hulle ingehaal, en ek het nie teruggekom voordat ek hulle vernietig het nie.
38(18:39) Ek het hulle verbrysel, sodat hulle nie kon opstaan nie; hulle het geval onder my voete.
39(18:40) En U het my met krag omgord vir die stryd; U het my teëstanders onder my laat buk.
40(18:41) En U het my vyande vir my laat vlug; en my haters, dié het ek vernietig.
41(18:42) Hulle het geroep om hulp, maar daar was geen verlosser nie—tot die HERE, maar Hy het hulle nie geantwoord nie.
42(18:43) Toe het ek hulle vermaal soos stof voor die wind; ek het hulle uitgegooi soos modder van die strate.
43(18:44) U het my gered uit die getwis van die volk; U het my ‘n hoof gemaak van nasies; ‘n volk wat ek nie geken het nie, het my gedien.
44(18:45) Sodra hulle van my gehoor het, was hulle my gehoorsaam, uitlanders het kruipende na my gekom.
45(18:46) Uitlanders word kragteloos en kom met siddering uit hulle vestings.
46(18:47) Die HERE leef! En geloofd sy my rots, en laat verhoog wees die God van my heil!
47(18:48) Die God wat my die wraak gee en volke aan my onderwerp;
48(18:49) wat my red van my vyande; ja, U verhef my bo my teëstanders; U bevry my van die man van geweld.
49(18:50) Daarom wil ek U loof, o HERE, onder die nasies, en tot eer van u Naam wil ek psalmsing.
50(18:51) Hy wat die verlossinge van sy koning groot maak en goedertierenheid bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en aan sy nageslag tot in ewigheid.