Loading Bible Translation
First-time download in progress. This may take a few seconds…
Afrikaans Holy Bible Wordproject Bible
31 verses
1My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul?
2(22:3) My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie swyg nie.
3(22:4) Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel!
4(22:5) Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered.
5(22:6) Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie.
6(22:7) Maar ek is ‘n wurm en geen man nie, ‘n smaad van die mense en verag deur die volk.
7(22:8) Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê:
8(22:9) Laat dit aan die HERE oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom!
9(22:10) Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors.
10(22:11) Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God.
11(22:12) Wees nie ver van my af nie, want die nood is naby, want daar is geen helper nie.
12(22:13) Baie stiere het my omsingel, sterkes van Basan het my omring.
13(22:14) Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos ‘n leeu wat verskeur en brul.
14(22:15) Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande.
15(22:16) My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood.
16(22:17) Want honde het my omsingel; ‘n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.
17(22:18) Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer!
18(22:19) Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.
19(22:20) Maar U, HERE, wees nie ver nie; my Sterkte, maak tog gou om my te help!
20(22:21) Red my siel van die swaard, my enigste uit die mag van die hond.
21(22:22) Verlos my uit die bek van die leeu, en uit die horings van die buffels het U my verhoor!
22(22:23) Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.
23(22:24) Julle wat die HERE vrees, prys Hom! Al die nakomelinge van Jakob, vereer Hom! Ja, vrees Hom, al die nakomelinge van Israel!
24(22:25) Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp.
25(22:26) Van U kom my lof in ‘n groot vergadering; ek sal my geloftes betaal in teenwoordigheid van die wat Hom vrees.
26(22:27) Die ootmoediges sal eet en versadig word; húlle sal die HERE prys wat na Hom soek; mag julle hart vir ewig lewe!
27(22:28) Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid.
28(22:29) Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies.
29(22:30) Al die grotes van die aarde sal eet en aanbid; almal wat in die stof neerdaal, sal voor sy aangesig kniel en hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie.
30(22:31) ‘n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die HERE aan die volgende geslag.
31(22:32) Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen.