Loading Bible Translation
First-time download in progress. This may take a few seconds…
Afrikaans Holy Bible Wordproject Bible
12 verses
1Hoe lieflik is u woninge, o HERE van die leërskare!
2(84:3) My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God.
3(84:4) Selfs vind die mossie ‘n huis en die swaweltjie ‘n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, naamlik u altare, HERE van die leërskare, my Koning en my God!
4(84:5) Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig. Sela.
5(84:6) Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.
6(84:7) As hulle deur die Droë Laagte trek, maak hulle dit ‘n fonteinland; ook oordek die vroeë reën dit met seëninge.
7(84:8) Hulle gaan van krag tot krag; elkeen van hulle sal verskyn voor God in Sion.
8(84:9) HERE, God van die leërskare, hoor my gebed; luister tog, o God van Jakob! Sela.
9(84:10) o God, ons skild, kyk en aanskou die aangesig van u gesalfde.
10(84:11) Want ‘n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.
11(84:12) Want die HERE God is ‘n son en skild; die HERE sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.
12(84:13) HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!